Vat my hande dat ek opstaan vir my volk – inskrupsie van ‘n indrukwekkende grafsteen in Pretoria-Wes

In die Nuwe Kerkhof in Pretoria-Wes (Rebeccastraat) staan ’n indrukwekkende grafsteen – ’n massiewe rotsblok waarop die veelseggende inskripsie aangebring is: Vat my hande dat ek opstaan vir my volk

Dit is die laaste rusplek van een van Suid-Afrika se bekendste, maar ook een van die mees omstrede krygsmanne, generaal Manie Maritz.

Salomon (Manie) Gerhardus Maritz is op 26 Julie 1876 in Kimberley gebore. Op 19-jarige ouderdom het hy na Johannesburg verhuis; vanweë sy vrywillige diens aan die Republiek met die Jameson-inval is aan hom die burgerregte van die Zuid-Afrikaansche Politie (ZARP) toegeken en met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog sluit hy hom as manskap by die Boksburg-kommando aan, om veral in Natal diens te doen.

Maritz was ’n kort, bonkige man wat oor buitengewone liggaamskrag beskik het. Sy moed en dryfkrag het hom ’n gedugte teenstander gemaak. Hy het ’n rustelose geaardheid en ’n haastige humeur gehad wat hom baie vyande besorg het, maar sy patriotisme en liefde vir sy volk het deur sy dade gespreek. Op sy sterfbed het sy opregte volksgevoel vir oulaas tot uiting gekom toe hy die woorde op sy grafskrif geprewel het.

Vat my hande dat ek opstaan vir my volk - inskrupsie van 'n indrukwekkende grafsteen in Pretoria-Wes
In die Anglo-Boereoorlog is Maritz na die vroeë oorlogsmaande na Noordwes-Kaapland gestuur, waar hy as kommandant en later generaal bevel oor die burgers en rebelle uit die distrikte Calvinia en Kenhardt gevoer het. In hierdie tydperk is hy twee keer gewond, maar hy het sodanig herstel dat hy sy soldate selfs nog tot by Darling (21 Oktober 1901) gevoer het.

Toe die vrede op 31 Mei 1902 gesluit is, het Maritz geweier om wapens neer te lê en gaan hy deur Duits-Suidwes-Afrika na Europa. Tog keer hy in 1904 terug, en na ’n kort verblyf in SWA gaan hy na Ventersburg om daar te boer. Hy trou met Emma Francis Nel, en uit die huwelik is twee seuns en twee dogters gebore.

In 1912 sluit hy hom weer by die Polisie aan. Hy beklee die rang van kommandant. In dieselfde jaar bedank hy egter uit die SA Polisie en sluit hom by die nuwe Unie-verdedigingsmag aan, as majoor. Hy bots egter gou met generaal JC Smuts toe hy weier om deel te neem aan die inval teen SWA, en hy rebelleer saam met die meeste van sy manskappe. Toe dit duidelik word dat die rebellie gaan misluk, besluit hy en generaal JCG Kemp aanvanklik ook om oor te gee. Maritz besluit egter later daarteen en gaan weer eens deur SWA na Angola en Portugal, waar hy hom tydelik gevestig het. Nadat hy ook drie jaar lank in Duitsland gewoon het, keer hy teen 1923 na Suid-Afrika terug, waar hy van hoogverraad aangekla en gevangenisstraf van drie jaar opgelê is. In 1924 laat die pasverkose Pakt-regering hom vry.

Generaal Maritz het in sy later jare ’n vurige bewonderaar van die Nasionaal-sosiale leerstellings geword. Benewens toesprake waarin hy veral striemende aanvalle op die Jode gedoen het, het hy ook in sy outobiografie, My lewe en strewe, die aanvalle voortgesit wat hom ’n boete van £75 (R150) op die hals gehaal het, omdat hy die “opsetlike doel” gehad het “om vyandige gevoelens teenoor die Jode” aan te wakker.

In die Tweede Wêreldoorlog het Maritz hom met verskeie buite-parlementêre politieke groepe wat teen die oorlog en die toenmalige regering gekant was, besig gehou. Sy stormagtige loopbaan is deur ’n noodlottige motorongeluk, digby Pretoria op 19 Desember 1940 beëindig toe hy ongeveer ’n uur na die ongeluk aan veelvuldige beserings in die hospitaal oorlede is.

Sy begrafnis, wat op 22 Desember 1940 uit die Pretoriase stadsaal plaasgevind het, het die Afrikanervolk se respek vir hierdie Afrikaner-patriot bevestig. Reeds vroeg op daardie Sondag het dit geblyk dat dit ’n ware volksplegtigheid gaan wees. Sy oorskot het van 11h00 tot 14h00 in staatsie gelê, duisende mense het in lang onafgebroke rye by die kis verbybeweeg. Daar naby is die Rebellievlag gehys. Dominee (later doktor) PSZ Coetzee, van Johannesburg, het die begrafnis gelei, na aanleiding van die teks “Jy sal gemis word want jou plek sal leeg wees”. Na afloop van die diens het die stoet na die kerkhof beweeg tussen duisende mense deur, die laaste ongeveer twee kilometer deur ’n erewag van Ossewa-Brandwag-lede. Vooraan die stoet het ses ruiters met ’n Rebellievlag gery, en agter die lykwa is ’n wit perd, bedek met ’n roukleed, deur twee vroue gelei.

’n Massiewe rotsblok van blou graniet is op sy graf opgerig. Die basis van die buitengewone grafsteen, wat nagenoeg 3½ m hoog is, is ongeveer 6 m in omtrek. Amper 1 m van onder af is ’n gedeelte gelyk gemaak, waarop die ingrypende inskripsie (sy laaste woorde) gegraveer is. Daarby verskyn ook die volgende woorde: Genl. Manie Salomon Gerhardus Maritz 1876–1940.

In sy rede by die begrafnis het dominee SJ Stander, indertyd van Hartbeesfontein gesê: “Ons groot manne lei die volk op die pad van Suid-Afrika, daarom sterf hulle in riviere en op die pad.”

Vat my hande dat ek opstaan vir my volk – inskrupsie van ‘n indrukwekkende grafsteen in Pretoria-Wes