DA wil die Afrikaaner tot niet maak

DA ondersteun regstellende aksie om wit mense te verarm

Julian Jansen – Rapport Sunday, November 03, 2013 8:41:38 AM

Die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming, wat die “stadige” regstellende aksie in die private sektor wil versnel, was die afgelope week die spreekwoordelike been in die hondehok.

Dit het veral gegons nadat die DA die wetsontwerp die vorige Donderdag in die Nasionale Vergadering (NV) gesteun het.

“Ek is verstom oor die DA-leierskap se steun vir die nuwe wet. Dit is teen alles waarvoor die DA se huidige ondersteuners staan,” sê dr. Dirk Hermann, adjunkhoof van Solidariteit.

Solidariteit het onlangs ’n hofsaak in die arbeidshof in Kaapstad gewen teen die departement van korrektiewe Dienste (DKD) wat die DKD sal dwing om nie net die nasionale demografie nie, maar ook die provinsiale demografie in ag te neem wanneer aanstellings gedoen word.

Die wysigingswet kan moontlik dié oorwinning – waarin Solidariteit DKD-werknemers verteenwoordig het – ongedaan maak.

Die skrywer en historikus prof. Hermann Giliomee sê ’n mens sal moet wag om te sien wat die howe beslis, maar die wet gee die minister die reg om in sekere gevalle die nasionale demografie toe te pas.

“Die wysigings is inderdaad drakonies en roekeloos. Dit sal werkloosheid bevorder en minderhede in ’n veel meer ongunstige posisie in die arbeidsmark plaas.”

Van die vernaamste wysigings aan die wet is:

* Die hersiening van die definisie van die “aangewese groep”. Dit word nou beperk tot Suid-Afrikaners. “Swart” mense wat ná 27 April 1994 burgerskap verkry het, kan nie regstellende aksie-teikens help haal nie.

* Die direkteur-generaal van arbeid mag die arbeidshof nader vir die oplê van ’n boete as ’n werkgewer nie ’n regstellende aksie-plan voorlê of toepas nie.

* Die skrapping van art. 39 en 40 beteken ’n werkgewer kan nie meer soos tans ’n beswaar of appèl indien teen ’n voldoeningsbevel wat deur ’n arbeidsinspekteur opgelê is nie.

* Boetebedrae vir die oortreding van sekere bepalings van die wet word aansienlik hoër.

Lees ook:

Helen Zille en DA: Hoe kan kiesers hul vertrou?

My antwoord aan Adriaan Basson, Redakteur van Beeld

Die Vyand in ons midde…

Drs. Anthea Jeffery en Frans Cronjé van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge sê die konsepwet behou die huidige bepalings dat werkgewers in die vasstelling van hul rasse-teikens die “demografiese profiel van die ekonomies aktiewe mense op nasionale en streekvlak” in ag moet neem.

Maar die voorgestelde wet bemagtig die minister van arbeid om ’n regulasie uit te vaardig “wat die omstandighede spesifiseer” waarin werkgewers óf die nasionale óf streekdemografie in ag moet neem.

Dit gee die minister meer mag, sê die FW de Klerk-stigting. Dié stigting sê hoewel die konsep-wysigingswet deur die NV aanvaar is, moet dit steeds voor die Na sionale Raad van Provinsies dien. ’n Versoek om voorleggings aan die bepaalde komitee te maak is onlangs gepubliseer en die publiek het dus ’n verdere geleentheid om voorleggings te maak.

Danny Titus, uitvoerende direkteur van kultuur by die ATKV, sê die uitspraak in die DKD-saak het egter duidelik daarop gedui hoe goed ook al die bedoelings met wette is, wanneer dit by die toepassing daarvan kom, val die pap voortdurend op die grond.

“Departemente moet met valkoë dopgehou word wanneer hulle partypolitieke oorwegings eerder as fundamentele regte voorrang laat geniet.”

Giliomee meen die DA het met sy steun vir dié wet sy kosbaarste besitting prysgegee, naamlik sy integriteit as ’n liberale, nie-rassige party.

“Dit is ’n lang en trotse geskiedenis waardeur nou ’n streep getrek word. Dit verbreek die kontrak met die minderhede wat voorheen vir die party gestem het in die veronderstelling dat die DA ook hul belange sal beskerm.

Die DA loop ook die gevaar dat die steun wat hy gaan verloor, nie voor gekompenseer sal word met noemenswaardige swart steun nie.”


Lees meer by http://www.henrileriche.com/2013/11/03/da-ondersteun-regstellende-aksie-om-wit-mense-te-verarm/#PYAgmEHyj0RvSr8c.99